Boodskap vir Vandag <info@bybelmedia.org.za>

Lees Lukas 24:13-49.

Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan (v 45).

Met groot kwashale skilder Lukas in hierdie hoofstuk die gebeure ná Jesus se opstanding. Van die ander Evangelieskrywers sou bepaalde aspekte daarvan in fyner besonderhede beskryf. Lukas sou dit later ook doen wanneer hy in die boek Handelinge die gebeure voor en tydens Jesus se hemelvaart sorgvuldiger inkleur as hier.

Maar sentraal in hierdie vertelling, en uniek aan die Lukasevan­gelie, is die uitgebreide verhaal van die Emmausgangers. Daardie twee swaarmoediges wat met “somber gesigte” (v 17) die pad huis toe aandurf ná die dramatiese gebeure op die Golgotaheuwel, en die vroue se verslag oor die gebeure by die tuingraf, wat hulle “ook nog ontstel” (v 22) het.

“Ons het so gehoop …” (v 21) sug hulle teenoor die vreemde­ling wat langs die pad by hulle aansluit en saam met hulle loop. Maar hierdie hoop is helaas dood en begrawe. En, ai, die vroue darem, met al hul stories …

Hierdie keer is dit hul medereisiger wat sug: “Glo julle dan nie …?” (v 25).

Nee, hulle glo nie. Eers heelwat later sou hulle teenoor mekaar erken dat hulle iets in hul hart voel roer het toe die saamloper met soveel oortuiging oor die Skrif begin praat het. Toe nooi hulle hom mos om saam te eet, en toe sien hulle sy hande.

Toe weet hulle. Toe glo hulle. En die res is, soos hulle sê, geskie­denis. Die geskiedenis van die Hoopgewer, wat ’n lang pad met kleingelowige hopeloses loop. Wat geduldig bly verduidelik, soos vir kinders. Wat Hom laat ompraat om saam te eet omdat Hy weet dat dit tot hul beswil is, dié wat moeilik begryp en beswaarlik glo.

Here, hoe hou U dit tog met ons uit! Bly praat met ons, open ons oë, ons verstand, ons hart.

Barend Vos