Blog categories

Comments

Adventstyd is wagtyd. Dit is ‘n tyd van hoop, vrede en onverwagse moontlikhede te midde van gejaagdheid en bekommernis. Dit is nie ‘n tyd om van die lewe te onttrek nie, maar juis ‘n tyd vir waagmoed. Ons verwag immers die koms van die Een wat alles nuut maak. Ons lewer hierdie getuienis in ‘n tyd van ontwrigting en verlies. Die seisoen van Advent is by uitstek dié tyd om te getuig oor God. Dit is ‘n tyd om saam te kniel en God te aanbid, en om in die lig hiervan te besin oor wie ons is en wat ons glo en doen. Volgens Kerkspieël se Predikantepaneel was 2020 vir baie van ons kollegas ‘n jaar van geloofsverdieping. Ons deel hierdie ervaring. Ons geloof in God is vanjaar onder die vergrootglas geplaas. Ons geloofsnuuskierigheid is geprikkel. Ons moes eenvoudig die taal van ons geloof dieper ondersoek. Die tyd van afsluiting het aan ons die geskenk van dieper nadenke gebied. Ons is gedwing om fyner as gewoonlik te onderskei waarop alles werklik aankom. Ons is sterk gekonfronteer met die nood en geskeidenheid in ons samelewing. Ons het nuwe betekenis gevind in ons roeping en werk. Die taal van ons Christelike geloof, soos uitgedruk in die verskillende belydenisse, het vir ons in die krisistyd ‘n veilige, maar ook dinamiese tuiste gebied: Ons glo in die Skepper wat ons vashou …in Jesus, ons Here, wat mens geword het, betrokke is by mense en vryheid en heelheid bring …in die Gees, wat Here is en lewend maak… Ons het opnuut onder die indruk daarvan gekom dat die grammatika van die geloof, die prente en verhale van die Bybel, die Woord van God, aan ons oorgelewer is; ons het dit nie uitgedink nie. Wat het ons immers wat ons nie ontvang het nie? (1 Kor 4:7). Ook die geloofsgemeenskap is aan ons gegee. Ons het mekaar opnuut ontvang as geloofsgenote. Ons glo nie maar net elkeen bestaan op sy of haar eie nie. Ons help mekaar om te glo. In 2020 het ons ontdek hoe die kultuur van individualisme eintlik teen ons tel. Ons wil dit afleer. Jesus het immers gesê: “Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het” (Joh 17:21). Covid het korrupsie in verskeie vorme in ons land verder laat gedy. Dit het die bewussyn van ouderdom en ander siektetoestande verskerp. Dit het geestesgesondheid beïnvloed. Dit het die donkerte gebring van alleenheid en afsondering. Gesinne en families is uitmekaar geskeur. Baie was ingehok saam met gewelddadige persone. Huisgeweld het toegeneem. Baie het skade gely. Ander het geliefdes verloor. Dit was ‘n jaar van ontnugtering, teleurstelling, verliese, woede en frustrasie. Ons kon met hierdie klag na God toe gaan: “My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep?” (Psalm 22: 2). Soms, wanneer daar woestyntye kom, voel ons leeg en sonder God. Ons word, soos mense van vroeg af deur die eeue, versoek om die grammatika van die geloof te laat gaan. Baie wonder of God werklik meer is as ‘n produk van die menslike verbeelding. Wanneer daar in die toekoms weer sulke tye kom, sal ons graag die afsluiting van 2020 in herinnering wil roep. Ons sal na die dissiplines van die geloof wil terugkeer; die Woord soos dit na ons toe kom in die Skrif oordink; alles – ook dit wat nié sin maak nie – in die lig van die Bybel en die taal van die belydenis oorweeg; die geselskap van Jesus in die eenvoudige saamwees en gesprek van gelowiges opsoek; weer die brood eet en die wyn drink. Wanneer ons sukkel om helderheid en rigting te kry, sal ons wil onthou dat ons kinders van Abraham en Sara is. Ons staan in die lang geloofstradisie van figure soos Moses, Debora, Jeremia en Augustinus. Hulle het ook vervreemding geken. Ons is maar mense, wie se lewens deel is van ‘n ontsaglike komplekse geheel. Dit is ons troos dat God ‘n greep daarop het. Ons sal aanhou wag …en daarom ons harte bly oopstel om die lewende Christus in verwondering te ontmoet. Ons sal berusting vind in die woorde van die Een Wie se hand op ons skouer rus: “Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, die Lewende. Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid“ (Open 1:17b-18a).